Maar ék sal altyddeur hoop en al u lof vermeerder. My mond sal u geregtigheid vertel, die hele dag u heil; want ek ken nie die maat daarvan nie. Ek sal kom met die magtige dade van die Here HERE; ek sal u geregtigheid vermeld, dié van U alleen. o God, U het my geleer van my jeug af, en tot nou toe verkondig ek u wonders. En ook tot die ouderdom en die grysheid toe—o God, verlaat my nie, totdat ek aan die volgende geslag u arm verkondig, aan almal wat sal kom, u mag. Ook is u geregtigheid, o God, tot in die hoogte; U wat groot dinge gedoen het, o God, wie is soos U?
(Ps. 71:14-19)